Bufland-bultoetsstasie ’n reuse-sprong vir Bosveldbulle

Die Bufland-bultoetsstasie in die Bosveld, is onlangs amptelik geopen nadat die eerste groep diere die toets deurloop het. Dié toetsstasie beoog om meerderwaardige bulle ten opsigte van voerbenutting en groei te identifiseer om die vleisbeesbedryf in die noordelike dele van die land ’n hupstoot te gee. Die toetsstasie voldoen aan die vereistes van en is gesertifiseer deur SA Stamboek, wat beteken dat die resultate internasionaal geverifieer kan word.

Bufland-bultoetsstasie

Die toetsstasie het staanplek vir 200 diere en drie siklusse van 50 diere per maand kan hanteer word. Dit maak dit moontlik om minstens 600 diere per jaar te toets.

Lukas Eksteen junior, wat die plaas Buffelsfontein naby Naboomspruit bedryf, het die Bufland-toetsstasie gebou.

Die geriewe maak dit vir raserteenwoordigers moontlik om diere na afloop van elke toets te keur.

SA Stamboek was van die begin af betrokke by die daarstelling van die toetsstasie. Hulle onderskryf die toetsmetode ten volle en is die data-diensverskaffer vir die eenheid.

Die oogmerk is om die beste sowat 10% van dié bulle te identifiseer en in die toetssentrum te toets, en die voeromsetverhouding (hoeveelheid voer benodig om een kilogram vleis te produseer, oftewel VOV) saam met groei in ag te neem om meerderwaardige diere uit te soek.

Bulle van alle vleisbeesrasse kan getoets word. Om tot die toets toegelaat te word, moet die diere aan die aanvangsgewig- en ouderdomsvereistes van die spesifieke beesras voldoen. Nadat die bulle oor ’n tydperk van 28 dae by die voer en omgewing in die toetsstasie aangepas is, begin die amptelike toets, wat 84 dae duur. Die diere kry ’n rantsoen wat vir ’n fase C-toets saamgestel is.

Voerstasies

In die toetsstasie gebruik Lukas die DeLaval-voerstasies, wat bekend is vir die akkuraatheid waarmee dit voer afmeet en weeg. ’n Oorhoofse awegaar voorsien die stasies van voer. Daar is altesaam twaalf voerstasies, waarby tot 20 bulle om die beurt met gemak kan vreet.

In die houkrale is daar 15 vierkante meter leefspasie vir elke dier en daar is staanruimte vir 200 diere op een slag. Elke dier het ’n elektroniese oorplaatjie, wat hom identifiseer as hy vreet en die hoeveelheid voer (gewig) wat hy inneem outomaties op die rekenaarstelsel aanteken.

Oorstapskaal

Elke dier word weekliks geweeg, aan die hand van sy oorplaatjie geïdentifiseer en sy gewig word outomaties aangeteken wanneer hy oor die skaal loop. Dit voorkom skryffoute, vergemaklik bestuur en bespaar arbeid.

“Aan die einde van die toets word die GDT en VOV van elke dier bereken, en kan die dier ook geskandeer word om karkaseienskappe soos oogspieroppervlakte, vetmarmering en vetdikte te bepaal,” sê Lukas.

Standaarde

“SA Stamboek sal daaroor waak dat die vereiste standaarde by die toetsstasie gehandhaaf word. Die stasie sal ’n sertifikaat kry dat hul data geverifieer is en ook ’n brandmerk kry sodat getoetste diere maklik geïdentifiseer kan word.”

Lees meer op AgriOrbit