DR JAN DU PREEZ, BESTURENDE DIREKTEUR, INSTITUUT VIR SUIWELTEGNOLOGIE
Beestuberkulose is ‘n eeu-oue siekte wat in die volksmond as tering of TB bekend staan. Aan die einde van die agtiende en begin van die negentiende eeu is dit vir die eerste keer in Suid-Afrika aangeteken.
Tuberkulose het heel waarskynlik na Suid-Afrika gekom deur besmette diere wat ingevoer is. Beestuberkulose is vanaf 1911 ‘n aanmeldbare siekte in Suid-Afrika. Dit is ‘n chroniese siekte wat veroorsaak word deur ‘n bakterie Mycobactorium en dit tas byna alle gewerwelde diersoorte aan.
Van ekonomiese en gesondheidsbelang, is daar drie soorte tuberkulose, naamlik beestuberkulose veroorsaak deur Mycobacterium bovis, menstuberkulose veroorsaak deur Mycobacterium tuberculosis en voëltuberkulose veroorsaak deur Mycobacterium avium.
Alhoewel verwant aan mekaar, verskil die veroorsakende organisme in al drie die gevalle van mekaar en kan dit deur laboratoriumtoetse geïdentifiseer word. Die organismes is ook in staat om die siekte in ander diersoorte behalwe die bees, voël en mens te veroorsaak.
Tuberkulose is ‘n soönose (siekte oordraagbaar van die dier na die mens en omgekeerd). Dit beteken dat die dier die mens kan besmet asook die mens die dier.
Die ontstaan van tuberkulose by die bees en mens
By die bees en die mens vind indringing van die liggaam deur die bakterieë in die meeste gevalle deur die longe plaas, maar dit kan ook deur die spysverteringstelsel geskied. Nadat die bakterieë hulle gevestig het, stimuleer sy aktiwiteite die vorming van gewasagtige letsels wat tuberkels genoem word.
Die tuberkels neem toe in grootte en die middelste gedeelte daarvan mag afsterf, kaasagtig word en later verkalk. Dit is ligoranje van kleur. Waar bakterieë ontsnap van hierdie oorspronklike fokus kan hulle via die limfstelsel of bloedstroom na ander dele van die liggaam versprei en daar weer tuberkels vorm. Indien baie organismes op dié wyse in die bloedstroom beland., vind algemene verspreiding deur die liggaam plaas en vorm menigvuldige letsels wat toksemie (bloedvergiftiging), swakheid, kragteloosheid en die dood tot gevolg kan hê.
Soms word letsels in so ‘n mate deur die digte bindweefsel omvou dat verdere verspreiding deur die liggaam nie plaasvind nie en die siekte aldaar beperk word. Letsels ontwikkel gewoonlik ook in die limfkliere wat die aangetaste liggaamsdeel of orgaan se limf dreineer en daarom word die kliere gewoonlik ondersoek om die teenwoordigheid van tuberkulose te bepaal.
Hoe raak diere besmet?
In die meeste gevalle word oordraging direk vanaf ‘n besmette dier met oop longletsels na gesonde diere oorgedra. Direkte besmetting van die asemhalingstelsel kom hoofsaaklik in stalle en ander geboue voor. Veral beeste met oop longstelsels hoes besmette stukkies slym uit of die kieme mag deur die klein uitgeasemde vogdeeltjies gedra en direk deur ander diere in die onmiddellike omgewing ingeasem word. Die kieme mag egter ook op die grond beland en daarna saam met stofdeeltjies opwarrel en dan weer ingeasem word, om sodoende indirekte besmetting te veroorsaak.
Besmetting deur die bek kom voor waar besmette water of melk gedrink word. Weidings of voerlekke wat besoedel word met kieme afkomstig van oop longstelsels waar slym opgehoes en weer ingesluk word, speel ‘n belangrike rol in besmetting.
Dit kan ook oorgedra word waar die speeksel of voedsel in die spysverteringskanaal deur letsels in die kanaal self besoedel en in die mis uitgeskei word asook deur melk. urine en skede-uitvloeisels as die betrokke organe aangetas is. Aangetaste limfkliere wat na buite oopbreek, mag ook genoemde voedsel- en waterbronne besmet.
Die moontlikheid bestaan dat besmetting oorgedra kan word deur besoedelde speennaalde, melkmasjiene, spekulums en ander apparate, of tydens dekking as die geslagsdele aangetas is. Besmetting deur wonde is ook nie uitgesluit nie.
Oordraging na ‘n ongebore kalf wanneer die baarmoeder besmet is of as die koei algemene letsels ontwikkel, is ook moontlik. Die tydperk wat die organisme buite die liggaam besmetlik bly, hang van klimaatstoestande af. Uitdroging en direkte sonlig is nadelig vir die organisme.
Staande drinkwater kan besmetlik bly vir 18 dae en in klam mis kan die kiem vir ses tot agt weke bly lewe. As die grond waarop besmette mis lê, bewerk word en die son warm is, mag die tydperk tot sewe dae verminder word.
Siektetekens
Beestuberkulose is oor die algemeen ‘n chroniese en soms nie-sigbare siekte. Dit neem maande of soms jare vir tekens om te ontwikkel. In die meerderheid beeste is tuberkulose ‘n onopsigtelike siekte.
In die meeste gevalle word die bees se limfkliere en dan die longe, uier en ander inwendige organe aangetas. By die oorgrote meerderheid van besmette beeste wat positief reageer, word geen waarneembare siektetekens opgemerk nie.
Diere met verspreide letsels in die liggaam, mag later geleidelik vermeer en ‘n wispelturige eetlus, wisselende temperatuur en glanslose haarkleed toon. Sulke diere word traag, maar die oë bly helder. Die tekens kom duidelik na vore tydens spanning en wanneer hoë eise aan die liggaam gestel word, soos met kalwing.
By gevorderde longaandoening mag ‘n enkele onderdrukte vogtige gehoes voorkom, veral vroeg in die oggend, na oefening of as dit koud is. Asemnood kom by gevorderde gevalle voor waar heelwat longweefsel al beskadig is. Vergrote long limfkliere oefen druk uit op die luggange wat tot asemnood kan lei. Herhaaldelike opblaas kan voorkom as gevolg van druk op die slukderm deur vergrote long-limfkliere.
Indien oppervlakkige limfkliere vergroot is, kan dit gesien of gevoel word. Baarmoederontsteking (metritis) as gevolg van tuberkulose kan bevrugting belemmer of dit kan misgeboorte (aborsie) by gevorderde dragtigheid tot gevolg hê. Besmetting van die uier hou gevaar in vir die kalf of mense wat die besmette melk drink as dit nie opgekook of gepasteuriseer is nie.
Dit is soms moeilik om hierdie vorm van mastitis te onderskei van mastitis as gevolg van ander organismes. By tuberkulose-mastitis word soms verharding en vergroting van die boonste gedeelte van veral die agteruierkwarte gevind. In sulke gevalle vergroot die limfkliere.
Indien die kliere vergoot sonder tasbare letsels in die uier self, dui dit dikwels op tuberkulose. Die melk self lyk aan die begin normaal; later mag vlokkies waargeneem word as die melk ‘n tydtjie gestaan het en in gevorderde gevalle lyk dit liggeelbruin en waterig.
Diagnose
‘n Veearts is verantwoordelik om ‘n diagnose van tuberkulose by beeste en ander diere te maak asook om dit te bevestig. Die geskiedenis en kliniese tekens by die diere sal in ag geneem word by die diagnose van tuberkulose.
Smere kan gemaak word van stukkies slym wat uitgehoes word, van die afsaksel nadat melk en urine uitgeswaai is, van skede-afskeidings, mis of aangetaste limfkliere en ander organe. Hierdie smere word gekleur volgens die Ziehl-Neelsen-metode en mikroskopies ondersoek.
‘n Biologiese toets kan ook uitgevoer word deur suspensies van bogenoemde in marmotte te spuit en dan ongeveer ses weke later ‘n nadoodse ondersoek uit te voer.
Dieselfde materiaal kan egter ook gebruik word vir die kweek van die tuberkulose veroorsakende bakterieë op geskikte media, maar die nadeel is dat hierdie metode, soos die biologiese toets, baie tyd in beslag neem.
Die intradermale tuberkulientoets is egter die toets wat die meeste gebruik word om tuberkulosebesmetting op te spoor. Die tuberkulientoets berus op ‘n gevoeligheid wat ná ‘n tydperk in die liggaam ontwikkel wanneer besmetting met Mycobacterium plaasgevind het.
Die lewende organismes kan patologiese veranderings, sigbare letsels en siekte veroorsaak. In Suid-Afrika is die uitvoering van ‘n tuberkulientoets onderhewig aan die goedkeuring van die seniorbestuurder: Dieregesondheid, en moet die voorwaardes wat gestel word, nagekom word.
Ander toetse wat beskikbaar is om tuberkulose te diagnoseer, is die temperatuurtoets, dubbele-intradermale toets en die Stormont-toets.
Tuberkulose as ‘n soönose
‘n Soönose is ‘n siekte wat die mens opdoen vanaf diere en omgekeerd. Mense besmet met M. tuberculosis kan beeste 00k besmet, maar kom selde voor. Alhoewel die letsels gewoonlik nie ontwikkel nie, word beeste nog gesensitiseer en bemoeilik dit die interpretasie van die tuberkulientoets.
Waar mense met M. bovis besmet raak, kom letsels gewoonlik in die beenstelsel, mesenteriese (en soms ander) limfkliere voor. Gevalle is egter ook bekend waar longbesmetting voorgekom het en deurdat mense met oop letsels ‘n bron van besmetting vir beeste geword het. Herbesmetting van tuberkulosevrye kuddes deur besmette mense met M. bovis, moet dus nie uit die oor verloor word nie.
Hoenders, varke, skape, perde, bokke en sommige wildsoorte (byvoorbeeld leeus en koedoes) is ook vatbaar vir tuberkulose en besmette diere hou ‘n gesondheidsgevaar vir die mens in. ‘n Veearts kan/sal ‘n nadoodse ondersoek op diere wat gevrek het, of geslag word weens vermoedelike tuberkulose, doen.
Redes waarom tuberkulose bestry en uitgeroei moet word
Tuberkulose is een van die staatsbeheerde siektes ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) en die vaste regulasies daarkragtens uitgevaardig. Behalwe verpligte aanmelding van die siekte, verleen die regulasies ook die mag om toetse verpligtend te maak waar die siekte voorkom of vermoed word en om ander maatreëls, soos kwarantyn en uitslagting, toe te pas om die siekte te bestryen uit te roei.
Dit is bekend dat die produksie van vleis en melk by besmette beeste nadelig geraak word – só ‘n produksieverlies kan tussen 10% en 25% wees.
In ‘n klein persentasie van gevalle kan die geslagsorgane van die manlike en vroulike diere aangetas wees. Reproduksieverliese as gevolg van aborsies of onvrugbaarheid kan in sulke gevalle voorkom.
Algemene verspreiding van die siekte deur die liggaam kan ook lei tot vrektes. Hierdie verliese kom meer voor gedurende swak voedingstoestande wanneer daar ‘n gebrek aan kos is, soos tydens droogtes.
Onder ekstensiewe boerderytoestande versprei tuberkulose gewoonlik stadig. Dit is egter deesdae die neiging om meer intensied te boer en al hoe meer diere op ‘n kleiner oppervlakte aan te hou – op aangeplante weidings, in voerkrale en in melkerye om die groter stede.
Hierdeur word gunstige toestande geskep vir vinniger verspreiding van die siekte in die stalle, by voerkrippe en waterbakke en deur middel van lekke wat uitgesit word asook massabeweiding.
Uitroeiing van die siekte is ook belangrik vir die beskerming van die land se uitvoerhandel in diere, vleis en dierlike produkte. Die ontwikkelde lande van die wêreld stel toenemende hoë vereistes in verband met tuberkulose-afwesigheid aan die lande waarvandaan invoere toegelaat word. Aangesien die mens, en veral jong kinders, ook vatbaar is vir beestuberkulose, is daar ‘n verpligting ten opsigte van openbare gesondheid om die siekte uit te roei. In juddes waar die voorkoms van die siekte hoog is, bestaan die gevaar dat mense besoedelde lug mag inasem waar daar binnenshuis, soos in stalle, noue kontak met beeste is.
Die drink van rou, besmette melk hou die moontlikheid in om mense te besmet. Enkele gevalle is egter ook bekend waar mense deur wonde besmetting opgedoen het, byvoorbeeld meswonde tydens die nadoodse ondersoek op ‘n besmette bees.
Beheer en voorkoming
Die hoofdoel in die stryd teen beestuberkulose is totale uitroeiing van die siekte. Om vordering met die uitroeiing van tuberkulose te maak, is dit verpligtend om beeste vir tuberkulose te laat toets. Daar is verskeie toetsskemas (byvoorbeeld akkreditasie en die diagnostiese kuddetoetsskema) wat daar gestel is om tuberkulose op te spoor, te beheer, te bestry en uit te roei. Raadpleeg die staatsveearts oor besonderhede aangaande tuberkulosevoorkoming en -beheer.
Pasteurisasie van melk
Melk wat gepasteuriseer is (72°C vir 15 sekondes) is veilig vir menslike gebruik. Pasteurisasie van melk dood alle siekteveroorsakende (patogende) bakterieë, soos byvoorbeeld bakterieë wat tuberkulose en brusellose veroorsaak.
Vir verdere navrae, kontak dr Jan du Preez by 021 843 5600.
Image source: Farmer’s Weekly
Comments 1
Ek wil graag weet wat is of wat beteken TB buite die longe