Só word Brahman ‘bees van die toekoms’

Genomika is die instrument waarmee die Brahman op pad is om die bees van die toekoms te word. Mnr. Sydney Hunt, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Brahman-beestelersgenootskap, skryf in ’n Brahman-bylaag oor sy indrukke van die nuutste tegnologie tot die beesbedryf se beskikking.

Mnr. Sydney Hunt boer al reeds 42 jaar met die voortreflike Brahmanras. Tans boer Syndey, sy seun, Geoffrey, en Sydney se broer, Mark, saam in ’n vennootskap, Hunt Farming, naby Warrenton in die Noord-Kaap.

Die Hunt Brahmanstoetery bestaan sedert 1959. Die Brahman is in Amerika geteel as teenvoeter vir die Britse rasse, wat nie goed daar aangepas was nie. Die idee was om ’n kleiner, maar geharde bees te ontwikkel.

Suid-Afrika het op daardie patroon voortgegaan, maar die Hunts het later groter, swaarder Brahmane in Amerika raakgeloop, wat hulle ingevoer het. Hulle het mettertyd van hul ander Brahmane ontslae geraak en dit was die begin van die beroemde Sugarland-lyn in Suid-Afrika.

Moderne Tegnologie

Die Hunts het van die begin af die tegnologie se waarde in beesboerdery besef en het hul Brahmane kunsmatig geÏnsemineer (KI) en mettertyd embriospoeling en in vitro-bevrugting toegepas.

Sydney sien genomika se rol as ’n geleentheid om tekortkominge wat reeds in die ras geïdentifiseer is, te verbeter. “As ons dit kan regkry, gaan ons met ons nuwe slagspreuk eindig: ‘Die volledige beesras.’”

“Ek wil in die proses ons eie stoetery verbeter, maar met behulp van die vleisbeesgenomikaprojek (VGP) ook die ras op nasionale basis verbeter. Aardverwarming is ’n werklikheid en die Brahman het die meeste eienskappe waarmee ons dié probleem kan takel, naamlik aanpassing en gehardheid. Geen ander beesras het soveel goeie hoedanighede wat dié gevaar die hoof kan bied en afweer nie,” sȇ hy.

Waardevolle Hulpmiddel

Die Hunts neem volledig deel van die VGP. Dit het by KI begin. Daarna het dit tot die prestasietoetsing van jong bulle by die Landbounavorsingsraad (LNR) se Armoedsvlakte-toetsstasie uitgebrei.

Hulle gebruik ook koppelbulle, wat dus in ander kuddes in Suid-Afrika, Namibië, Australië en Amerika vir teling aangewend word. Dit neem hul deelname van die VGP ’n belangrike stap verder. Die ontledings om genomiese, beraamde teelwaardes te ontwikkel, word deur Breedplan gedoen.

Die teelwaardes wat hulle van die Brahman-genootskap kry, is ’n waardevolle hulpmiddel vir seleksie om bulle uit te skakel wat nie aan gewenste eienskappe byvoorbeeld temperament voldoen nie. Gevolglik kan hy die regte bulle vir paring gebruik. Terselfdertyd kan hy die beste, vrugbare koeie vir teling selekteer, sê Hunt.

Hunt sȇ die VGP gaan ’n omwenteling in Brahmanteling teweeg bring.

“Genomika sal sewe jaar se teling uit die boerdery sny. Só kan rasvordering vinniger plaasvind en boere op bepaalde eienskappe konsentreer wat vir hulle belangrik is,” sȇ Hunt.

Moderne Wetenskap

Vier lande is by die VGP betrokke – dus is daar koppeling tussen teelbulle wat die akkuraatheid van data verhoog.

Die evaluasie van ’n dier met die oog is nie langer die enigste antwoord vir rasvordering nie. Daarmee saam moet ’n teler moderne wetenskap gebruik om genetiese vordering te maak en dit is waar genomika inkom.

Hunt bevorder die genomikaprojek met oorgawe, want die Brahman se toekoms is daaraan verbind. Met genomika kan hulle leemtes vul en eienskappe verbeter.

Volgens Hunt kan die VGP kan in verskeie uiteenlopende behoeftes voorsien deur bulle met die betrokke eienskappe te identifiseer en by telers aan te beveel wat tekortkominge sal aanvul.

“Die mark het vir ons gesê wat hy wil hê. Dus moet ons gehoor gee, maar in die proses die Brahman se uitsonderlike gehardheid, aanpasbaarheid en basterkrag behou. Dan kan ons die produk verskaf wat almal wil hê deur die volledige Brahman te teel,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *