Voorkomende maatreëls teen siektes is belangrik

GERHARD SCHUTTE, UITVOERENDE HOOFBESTUURDER, ROOIVLEIS PRODUSENTE ORGANISASIE

“Die beste praktyk vir produsente bly om hul vee op ‘n gereelde basis teen Slenkdalkoors in te ent,” het prof Bob Swanepoel, ‘n onafhanklike deskundige op die gebied van dié siekte, tydens die laaste vergade ring van die Dieregesondheidsforum gesê.

Hy het produsente aanbeveel om nie hul vee tydens ‘n uitbreking van Slenkdalkoors in te ent nie. Die feit dat inentings teen die siekte in die verlede ondoeltreffend was, beteken nie dat dit die entstowwe was wat foutief was nie, maar moontlik eerder ‘n geval van entstowwe wat
nie korrek toegedien is nie, het hy gesê.

Dit is ‘n probleem dat Suid-Afrikaanse produsente oor die algemeen nie ‘n voorkomende maatreël teen siektes het nie. Behoorlike vooruitskattings van weerstoestande en moontlike siekte is noodsaaklik, wat ook sal meehelp dat entstowwe ‘n langer rakleeftydperk het.

Tydens die vergadering is daar ook gerapporteer dat die forum se voorstelle groot gewig dra by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Een van die sake wat tydens die laaste vergadering met die departement onder die soeklig gekom het, is die probleme wat ondervind word om navorsingsprojekte goedgekeur te kry. Die departement het hom daartoe verbind om sulke aangeleenthede vinniger aan te spreek.

Sover dit verpligte gemeenskapsdiens vir veeartse betref, is dit duidelik dat die stelsel nie voor 2015 in werking gestel sal word nie. ‘n Proeflopie sou in 2013 van stapel gestuur word, maar dit sal nou eers in 2014 plaasvind. Die verskillende rolspelers in die bedryf is versoek om druk toe te pas dat die proeflopie wel in 2014 van stapel gestuur sal word, so nie bestaan daar die risiko dat 150 mense ‘n jaar van hul lewens kan mors.

Die voorkoms van ongeregistreerde entstowwe bly ‘n probleem en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het aangedui dat sy ondersoek in dié verband binnekort afgehandel sal wees. Geval-spesifieke entstowwe mag slegs by geregistreerde fasiliteite vervaardig word. In dié stadium is dit nie heeltemal duidelik onder watter wetgewing
gevalle van ongeregistreerde entstowwe vervolg moet word nie. As daar nie ‘n mark vir dié tipe entstowwe was nie, sou die probleem nie bestaan het nie. Die rooivleisbedryf het ‘n verantwoordelikheid om die probleem aan te spreek.

Tydens die vergadering is daar ook gerapporteer dat Johne se siekte as ‘n aanmeldbare siekte verklaar word. Die departement het reeds sekere toegewings gemaak. Dit is belangrik dat die opkomende sektor deel van die proses sal wees.

In die geval van bek-en-klouseer is die posisie tans een van skaakmat. Die bedryf het alle vrae van die internasionale organisasie vir dieregesondheid, die World Organisation for Animal Health (OIE), beantwoord, terwyl die departement ook daarvan oortuig is dat sy dokumentasie oor die siekte volledig is. Een van die grootste probleme wat deur die OIE geïdentifiseer is, is diere-identifikasie en opspoorbaarheid. Suid-Afrika se handelsvennote sal ook nie met ons wil handel dryf as daar nie ‘n stelsel van opspoorbaarheid in plek is nie.

In dié geval beteken diere-identifikasie slegs dat daar rekenskap van elke dier in die land gegee kan word, en dat dit duidelik sal wees presies hoeveel diere daar in Suid-Afrika is. ‘n Stelsel waar die beweging van diere in die land beheer word, is ook noodsaaklik vir die beheer van dieresiektes en handel.

Intussen bestaan daar ‘n risiko dat die Suid-Afrikaanse veekudde met Peste des petits ruminants (PPR) besmet kan raak via Namibië en Angola. Diere wat Suid-Afrika vanaf dié twee lande binnekom, behoort geslag te word.

Dié aangeleentheid asook die kwessie van Lesotho weidingspermitte, sal tydens die volgende ontmoeting met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aangespreek word.

Bron: RPO

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *